Skip to Content

Psalms Hoofstuk 29

1 'n Psalm van Dawid. Gee aan die HERE, o hemelinge, gee aan die HERE eer en sterkte! 2 Gee aan die HERE die eer van sy Naam; aanbid die HERE in heilige sieraad! 3 Die stem van die HERE is op die waters, die God van eer donder; die HERE is op die groot waters. 4 Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid. 5 Die stem van die HERE breek seders; ja, die HERE verbreek die seders van die Líbanon; 6 en Hy laat hulle opspring soos 'n kalf, die Líbanon en Sirjon soos 'n jong buffel. 7 Die stem van die HERE slaan daar vuurvlamme uit. 8 Die stem van die HERE laat die woestyn bewe; die HERE laat die woestyn van Kades bewe. 9 Die stem van die HERE laat die takbokke lam en maak die bosse kaal; maar in sy paleis sê elkeen: Heerlikheid! 10 Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid. 11 Die HERE sal sy volk sterkte gee, die HERE sal sy volk seën met vrede.